Hoe stil die valk – Charles Tomlinson (geb. 1927)

Hoe stipstil en veerlig hang
die onskuldige valk bokant
sy agterplaas woud:
afstand, wat die daad suiwer
stroop van alle bedoeling, het met skoonheid
daardie doelgerigtheid gevier.
Skoonheid moet egter lieg
nes onskuld skade moet berokken
aan die wie se einde (aangewese,
bepaald) kaalgestroop is
soos die kaart waarop dit bewend hurk.
En die verderfsvonnis val:
storting van vrede
aan hom wat nie die nabyheid
of noodsaak deel nie,
die verskrompelde sirkel
van magnetiese vrees.

Vertaling: Jan AF du Plessis

Valk wat rus – Ted Hughes (geb. 1930)

Ek sit bo in die woud se toppunt, my oë toe.
Roerloos, geen vervalsende droom
tussen my gekromde kop en gekrulde kloue:
of verbeel my, slapend, kleedrepetisies van perfekte afmaaiings eet.

Die gemaklike gerief van die hoë bome!
Die lug se stuwende dryfvermoë en die son se straling
is voordelig vir my;
en die aarde se gesig opwaarts gekeer vir my nabetragting.

My kloue diep in die growwe bas ingekap.
Dit het die ganse Skepping
geneem om my poot voort te bring, elke veer van my:
nou hou ek die skepping terstond vas in my voet

of vlieg op, vanwaar ek dit alles stadig laat tol –
ek moor waar ek wil, want dit is alles myne.
Geen verfynde sofistikasie skuil in my lyf nie:
my maniere gewoon die afruk van koppe –

die ingebore gawe van dood uitdeel.
Want die een, sekure pad van my vlug is direk
deur die beendere van die lewendes.
Geen argumente staaf my reg nie:

die son is agter my.
Niks het verander sedert my begin nie.
My oog het geen verandering toegelaat nie.
Ek gaan dinge net só hou.

Vertaling: Jan AF du Plessis

Onophoudelik absurditeit uitdagend

 (Constantly Risking Absurdity – Lawrence Ferlinghetti)

Onophoudelik absurditeit uitdagend
tart hy die dood
waar ookal hy optree
hoog bokant die koppe
van sy gehoor
die digter, soos ‘n akrobaat
klouter rond op rym
se spantou lat-vir-eie-gat
en balanseer op oogbalkstrale
bokant die see van gesigte
tree sy passies af
na die dag se anderkant
pluk woordhase uit betekenishoedens
en doen kul-jou-hier siedaar! woordtruuks
en ander hoogs teatrale optowerings
alles sonder om iets
te verwar
met wat dit nie is nie
Want hy is die super-realis
wie skalks die waar-nemer moet wees
van (styf)gespanne waarheid
voor die neem van elke meningtree of houding
in sy sogenaamde vooruitgang
en opmars na daai steeds-hoër lys
waar Skoonheid met gravitas
staan en wag
om haar doodsveragtende sprong te maak
En hy
die klein charleychaplin mannetjie
wat miskien (of nie)
haar skone, ewigdurende vorm moet vang
wydgevlerk in die leë-lug
van bestaan.
Vertaling: Jan A F du Plessis

Ek en jy en die danse

met jou warmte hier styf teenaan my

taan my vrese en my hoop gedy;

op die enkel polsslag van ons harte

twostep ons lag-lag sirkels om ons smarte

by jou ontsnap ek uit die sel van die self

dan staan horlosies stil en kan ons delf

tot in mekaar se diepste wese – die kaleidoskoop-siel –

kan ons bokspring van plesier op ‘n toi-toi riel

die mens is dier wat dwarsdeur reis deur tyd se grense,

herinnerings uit die toekoms roep, vergetelheid onthou en wense

tot werklikheid worstel – in hierdie drama wat end-uit boei

tango ons twee vurig, in pas met die sirene-geloei

dan, immer weer alleen, maar seker van een ding:

so lank ek lewe sal ek dans, so lank ek stem het, sing . . .

en met die staccato metronoom van ‘n blaffende masjien-geweer

tol ek sierlik met my skaduwee in ‘n deurmekaar pas-de-deux

en kort voor lank, wanneer die doodskelet

my selfs die laaste, kosbare asemteug belet

en krom sy benerige vinger vir my krul en knars

sal ek geoefend my voete lig – stadig, statig in ‘n dodemars

Jan A.F. du Plessis

Onse Vader

van Afghanistan tot Zanzibar,

soos in die pou-blou ver-verbeel,

net so ook hier op vrotbesoedelde Gaia.

Gee ons vandag ons daaglikse ciabatta,

biscotti en gebotterde croissants,

en vergeef ons ons oortrokke tjekrekenings

en derde verbande op drieverdieping paleise

met tennisbane, swembaddens en electric ringmure,

net soos ons ook die armes en die have-nots opskroef

met piramide-skemas en onhaalbare rente op rente.

En lei ons nie in die versoeking van pornsurf en cokesnuif nie,

maar verlos ons van Heavy Metal en vrydenkende atterjiste.

Want aan u behoort die New World Order

en die verenigde wêreldregering, die kernkragsentrales

en die hospitaalplan oor lewe en dood, die glorie

van alewig-beterwetende onsterflikheid

tot in die verre forever.

Amen.

Jan A.F. du Plessis