Poësie? – Pablo Neruda

So was dit toe op die bestemde tyd … dat Poësie haar opwagting gemaak het,op soek na my.
Waarvandaan dit gekom het, wis ek nie.
Hetsy dit was vanaf winter, of uit ‘n rivier,
of hartseer of die liefde.
Ek weet nie hoe of van waar af nie.
Nee, dit was nie stemme,
woorde of stiltes tussen reëls nie,
maar van die straat af was ek genooi, nee geroep.
Vanuit die vertakkings van die nag,
skielik uit die teenwooordigheid van andere weggepluk,
of tussen gewelddadige vure gestrand.

En dit het my diep aangeraak,
ek het nie geweet wat om te sê nie;
name het my ontgaan
en my oë was blind.
Maar iets het in my siel ontwaak:
koorsigheid of vergete, gevleuelde woorde
en ek moes my pad weer vind.
Kon ek, afgesonderd en gesigloos,

die vuur se raaisels deurgrond,
deur enkele reëls op papier vas te pen.

Toe skryf ek vaagweg, stof sonder inhoud,
sommer-so uit my heup uit nonsens.
Die wysheid van ‘n dwaas
wat niks weet van paar- of dwangrym nie
en skielik sien ek die kettinglose hemelruim,
planete wat vryval, polsende woude
wat nes ek asemhaal en waarlik leef,
geperforeerde skadu’s teen my muur,
raaisels met vure, blomme en pyle van die nag,
die hele kolossale magdom van die universe.
Daarteenoor staan ek, oneindig kleine, infinitesimale mens
dronk en hol en vol.
Word ek terselfdertyd die gelykenis
sowel as die misterie.
Ek en myself wat deel word van die afgrond,
tol ons saam met die sterre in ‘n dolle mallemeule
en gooi ek hulle dan vir jou in ‘n kruiwa.
Maar my hart breek los saam met die wind.

Vertaling: Mariette Pretorius – 14 Feb 2017

Ek onthou

(Vir my pa)

Ek onthou hoe jy my opgetel het op ‘n stoel
sodat die wêreld kon kennis maak met ‘n singende dogtertjie
wat sing dat die wêreld nie haar huis is nie.
Ek onthou die skoolvakansies, my eerste vis
en die tube wat ons boot was.
Die keer wat ek so siek was en jy hardop gebid het
dat ek tog net gesond moes raak.
Ek onthou hoe jy en ek saam gesit en musiek maak het
en ‘n keyboard kon deel en ander kere
hoe jy orrel sou speel en ek jou maat was op klavier.
Die kere wat jy sing van daai boot wat woes
op ‘n onstuimige see ronddobber.

Ek onthou hoe hardegat jy was (dis mos ons manier)
en vasskop as dinge nie na wense verloop nie.
Ek onthou dat jy daar was toe ek jou nodig gehad het
en jy skelm vir my kom kuier het.
Mense sê dat ek jou duimafdruk is in persoonlikheid en talente.
Ek wonder nou of dit is hoekom my hart so seer is,
want my ander helfte is oud en siek.

Pappie nou in die winter van jou lewe
is ons rolle omgeruil en ek wens dat ek net nog een keer
op jou skoot kon klim sodat jy die spoke kan besweer.
Ek wens ons kon net nog een keer keyboard tokkel
en musiek maak tot almal se plesier.
Ek wens dat ek nog een keer saam met jou kon gaan visvang
en jy ewe ernstig ons maan om nie te raas nie want die visse raak verskrik.
Ek wens ek kon jou kwesbaarheid wegvat en jou verseker alles is OK.
Nou in die skemer van jou lewe sien ek hoe flikker die lig van onthou
by die speel van jou favourite tune,
hoe jy saam met my tyd hou met jou voet wat ritmies ruk.
Pappie hierdie ode is net vir jou,
Want ek onthou.

Mariette Pretorius